Saturday 14 October 2017

Ek wens jou Genoeg

Onlangs hoor ek ’n moeder en haar dogter in hul laaste afskeidsoomblik by die lughawe. Die aankondiging dat die passasiers aan boord moet gaan het reeds plaasgevind. Hulle staan by die sekuriteitshek, omhels mekaar en die moeder sê, “Ek is lief vir jou en wens jou genoeg”.

Die dogter antwoord, “Mamma, ons lewe saam was meer as genoeg. Jou liefde was al wat ek nodig gehad het. Ek wens jou ook genoeg toe, Mamma”.

Hulle soen mekaar en die dogter vertrek. Die moeder stap na die venster wat uitkyk op die aanloopbane en waar ek sit. Terwyl sy daar staan kon ek sien sy wou en het nodig gehad om te huil. Ek wou nie inmeng in haar privaatheid nie maar sy verwelkom my deur te vra, “Het jy al vir iemand totsiens gesê met die wete dat dit vir altyd is?”

“Ja, ek het” antwoord ek. “Verskoon my dat ek vra, maar hoekom is dit ’n totsiens vir ewig?”

Sy sê “Ek is oud en sy bly so ver. Ek het uitdagings wat voorlê en die realiteit is – haar volgende vlug hierheen sal vir my begrafnis wees.”

“Toe julle totsiens gesê het, het ek gehoor jy sê vir jou dogter “..wens jou genoeg”. Mag ek vra wat dit beteken?”

Sy begin te glimlag. “Dit is ’n wens wat oorgedra is van een generasie na die ander. My ouers het dit vir almal gesê”. Sy aarsel ’n oomblik en kyk in die lug asof sy dit in detail wil onthou en sy glimlag steeds breër. “Toe ons gesê het. ‘Ek wens jou genoeg’, wens ons die ander persoon ’n lewe toe gevul met net genoeg goeie dinge om hulle te dra.” Sy draai na my, en deel die volgende asof sy dit voordra uit geheue.

Ek wens jou genoeg sonskyn toe sodat jou lewensuitkyk helder sal wees maak nie saak hoe donker die dag mag lyk nie.

Ek wens jou genoeg reën om die sonskyn steeds meer te waardeer.

Ek wens jou genoeg blydskap om jou siel lewendig en ewigdurend te hou. 
Ek wens jou genoeg pyn sodat selfs die kleinste vreugde in jou lewe groot sal lyk. 
Ek wens jou genoeg gewin om jou behoefte te bevredig. 
Ek wens jou genoeg verlies om te waardeer dit wat jy het. 
Ek wens jou genoeg hallo's om jou deur te dra deur die finale totsiens.

Sy begin te huil en stap weg.

Hulle sê dit neem ’n minuut om ’n spesiale persoon te vind, ’n uur om hulle te waardeer, ’n dag om hulle lief te kry en ’n hele leeftyd om hulle te vergeet.

Tuesday 18 July 2017

Kruie kraai koning!

Foto vanaf Kruie Kraai Koning

Nadat ek 'n ruk terug 'n program op KykNet gesien het oor Antoinette Pienaar en Oom Johannes (al in sy 90's) wat in die Groot Karoo met kruie handel dryf, is ek totaal geïnspireer om weer 'n kruietuin te probeer aan die gang kry.

Foto vanaf Kruie Kraai Koning

Ek het hul webwerf, Kruie Kraai Koning, besoek en op wonderlike inligting oor kruie en hul genesende eienskappe afgekom. Ons almal wéét mos van kruie en wat hulle kan verrig, maar dis wonderlik om kruie te ontdek wat almal reg hier in Suid Afrika groei en dit nogal in Afrikaans.

Antoinette se storie begin toe sy in 2001 op kleinneef Jacques Pienaar se plaas Theefontein opgedaag het, ernstig verswak nadat sy serebrale malaria in Wes-Afrika opgedoen het. Dokters het aan haar gesê om maar reg te maak vir ‘n vroeë dood omdat haar lewer en niere baie skade opgedoen het.

Hier het sy vir Oom Johannes Willemse ontmoet en by Oom Johannes het sy geleer van veldkuns, veldkruie, kruiepreparate voorberei en lewe soos die ou mense gelewe het. Sy het eerstehands ondervind hoe die kruie haar organe versterk het en is nou volkome gesond. "Konvensionele medikasie neem in baie gevalle die werking van die geaffekteerde orgaan oor, maar kruie versterk die orgaan sodat hy self die werk kan doen. Kruie werk op fisiese sowel as emosionele vlak in die liggaam en verlig daarom ook simptome wat saam met post-traumatiese stres gaan,” sê Antoinette.


Ek self het 'n paar weke terug verkoue opgedoen met 'n geniesery en gehoesery wat na 'n week in longontsteking ontaard het. Right, dokter toe, kry die nodige antibiotika en iets vir die hoesery. Die antibiotika was baie sterk, dieselfde wat hulle sou toegedien het indien ek hospitaal toe is (het vir dokter gevra, asseblief, net nie die hospitaal nie!) Na 'n week was die antibiotika klaar en ek het nog nie beter gevoel nie. Kort-kort weer ernstig siek gevoel, kort-kort nog na asem gesnak en die hoesbuie was definitief iets om oor huistoe te skryf! Nog 'n week later was ek  ernstig bekommerd en het gewonder of ek weer moet terug dokter toe, veral aangesien ek nie meer so jonk is nie (het hierdie jaar 71 geword). En dan? Nog meer antibiotika? Nog meer hoesmedisyne? Dit het net nie vir my reg gevoel nie. Ek het daaraan gedink om Dischem toe te gaan en verskeie vitamines en gesondheidsrate aan te skaf, maar ek vertrou ook nie sommer allerhande sintetiese en chemiese goeters nie.

Ek het besluit om intussen, tot ek tot 'n besluit kan kom, baie water te drink en het 12 bakkies plein jogurt gekoop, een vir elke dag vir die volgende twee weke. Joghurt bevat mos natuurlike goeie bakterieë (lewende kulture) wat jou liggaam help om te herstel na die verlies van natuurlike bakterieë vernietig deur die antibiotika. Binne 'n week het ek beter begin voel - my asemhaling het terug gekeer na normaal (behalwe as ek êrens heen gehardloop het!), ek het nie meer "siek" gevoel nie en die hoesery het baie verminder.

Ek het ook op Kruie Kraai Koning se webwerf afgekom op 'n boereraat vir longontsteking en dis nou juis dít wat my laat besluit het om, vir die toekoms, 'n kruietuin te plant. Dit maak vir my heeltemal sin om die natuurlike roete van genesing te kies. Ek het ook groot geword in 'n gesin met 'n apteker vir 'n pa. Seer mangels is nie verwyder nie maar behandel met Rooi Aluin, wat dit laat krimp het en gesond gemaak het, oorpyn was behandel met lou-warm kasterolie en elke Vrydagaand was dit 'n eetlepel kasterolie-tyd. Vir 'n hoofpyn is ons gesê om water te drink en vars lug buite te gaan soek. Ek kan glad nie eers een doktersbesoek as 'n kind onthou nie (behalwe vir 'n gebreekte arm toe ek uit 'n boom geval het!). En dwarsdeur my twintigs, dertigs, en veertigs tot nou het ek nog nooit sommer pille gedrink nie. As gevolg voel ek dat my immuunstelsel baie sterk en gesond is en kon die longontsteking baie erger gewees het.

Foto vanaf Kruie Kraai Koning

Raat vir Brongitis, longontsteking en emfiseem

Neem vier takkies wilde-als, lengte vanaf die pols tot wysvinger, en een takkie wynruit, ook vanaf die pols tot die wysvinger. 
Neem nieshout, skraap een teelepel se waarde splinters met ‘n messie af. 
Plaas alles in een liter water, voeg 1 1/2 koppies suiker by en kook die mengsel op ‘n matige hitte vir 45 minute. 
Laat die stroopmengsel afkoel en gooi dit dan af in ‘n glasbottel wat jy in die yskas hou. 
Neem ‘n kelkie (Engelse “tot”) drie keer per dag. 

Gebruik die mengsel soos nodig. 

Groei wilde-als en wynruit in jou tuin, die plante is by sommige kwekerye beskikbaar.

Ek weet baie mense dink "self-medikasie" is gevaarlik en dat mens nie sommer alles moet glo wat jy hoor of lees nie, maar natuurlik sal ek elke plant se veiligheid en genesings-eienskappe deeglik navors voordat ek dit plant of gebruik.

.
En dalk sal ek een van Antoinette en Oom Johannes se "werkswinkels" bywoon - Die werkswinkels en verblyf vind plaas in the Groot Karoo, op Juriesfontein, 'n buurplaas van Theefontein. Die plaas is 'n uur se ry van Beaufort-Wes af, op 'n goeie grondpad. Antoinette en oom Johannes sal begin deur te vertel van die kruie wat op die vlaktes en in die klowe groei, waar hulle voorkom en hoe hulle medisinaal gebruik kan word. Daar sal aandag gegee word aan hoe die liggaam en die organe fisies weerspieël wat emosioneel in die mens gebeur en hoe die kruie nie net fisiese verligting gee nie, maar ook op emosionele vlak genesing bring. Dan sal hulle uitbrei en kortliks vertel van medisinale tuinkruie en hoe ‘n mens jou eie apteek in jou agterplaas kan plant. Dae 2 en 3 offer nog meer inligting en inspirasie voor almal mekaar groet en met hernuwe energie terugkeer na ons huise.

Sien jou daar!


'n Lys van Kruie om te plant (vir my eie inligting):
  • Bergpatat help met gewigsverlies omdat dit die metabolisme stabiliseer.
  • Bitterbos help om die lewer te ontgif en kan met sukses gebruik word vir mense wat lewerkanker, hepatitis en lewerkwale het.
  • Dasbos en Balderjan help om nn verkoue uit te sweet.
  • Dasbos en Karmedip help met blaasontsteking en ander blaasprobleme, asook prostaatprobleme aangesien dit verseker dat die blaas behoorlik geledig word.
  • Dasbos en Klipgruis ontgif die liggaam en help met nierprobleme omdat dit die waterbalans in die liggaam reguleer.
  • Dasbos en Renostertop versterk die longe in pasiënte met tuberkulose (TB).
  • Dawidjie-wortel help met die geheue.
  • Dermpoeier bestaan uit 14 verskillende soorte wortels wat op ‘n maalklip gemaal word en help met toestande soos spastiese dikderm, geïrriteerde dermsindroom, maagsere en hardlywigheid.
  • Gifbolblare versnel die genesing van wonde en bedsere.
  • Grashout verlig winde op die maag.
  • Kalmoes help mense wat wil ophou rook deur rooklus meer hanteerbaar te maak.
  • Kaneelbol stabiliseer bloedkondisies soos bloedduk, bloedsomloopprobleme en spatare, en cholesterol.
  • Kankerbossie en Karmedip verlig die simptome van blaaskanker, prostaatkanker en kanker van die pankreas.
  • KANKERBOSSIE, DIE KONING VAN KRUIE
    Kankerbossie is die kruie met die meeste streeksname, dit word in die Karoo Willekeur, Kalkoentjies of Gansies genoem,  in die Overberg word dit Keurtjies genoem en in die Weskus word dit Jantjie Berend. As n mens met ouer mense praat en vra watter kruie hulle die meeste gebruik het, is die antwoord meestal ‘Keurtjies’.

    Meeste kruie wat 'n mens gebruik, word gebruik vir 'n 3-maande periode, dan los 'n mens dit vir 3 tot 4 maande om die liggaam tyd te gee om die genesing verder te vat. Dit bly vir my interessant dat die moderne mens klaarblyklik vergeet het dat die menselike liggaam so ontwerp is, dat die liggaam homself keer op keer self kan genees. Dis hier waar Kankerbossie inkom, dit hou die immuunstelsel sterk en as dit sterk is, word al die organe ondersteun. Hierdie krui is al een wat jy jaar in, jaar uit kan drink, elke dag.

    Daar is onlangs baie navorsing gedoen oor Sutherlandia frutescence en wetenskaplikes het onteenseglik bewys dat Kankerbossie die immuunstelsel versterk en dat dit die hoof-kruie is om voorkomend kan drink. Mans hoef nie te wag om 40 jaar oud te word om Kankerbossie saam met Karmedip te drink om n gesonde prostaat te verseker nie en vrouens kan Kankerbossie saam met Katjie-3-Blaar gebruik om te help met die geweldige simptome van menopouse.

    Dis wetenskaplik bewys dat Kankerbossie TB en HIV pasiënte help met hulle geweldige gewigs-verlies, want dit help om pasiënte 'n eetlus te gee, asook met die bou van spiere, na 'n lang siekbed. Hierdie kruie help ook met angstigheid, die vloek van die moderne eeu, omdat dit die Kortisol vlakke in die liggaam verhoog. Kankerbossie het ook anti-inflammatoriese en anti-oksidant komponente en kan ook verligting gee vir mense met tipe 2 Diabetes. Hierdie kruie moet langdurig gebruik word, mens kan dit nie net vir 3 weke gebruik en dan tot die gevolgtrekking kom ‘dat die kruie nie werk nie’.

    As ‘n mens kruie gebruik, is 'n mens deel van die proses van jou genesing, want jy moet toegewyd wees om te onthou om dit daagliks te gebruik, dit gereeld voor te berei en ook emosioneel betrokke te word met jou fisiese herstel. Toe ek begin kruie gebruik, het ek begin leer om te luister na my liggaam en besef elkeen van ons ken ons liggame die beste en deur bewus te wees van hoe jou liggaam werk, so kan jy voorkomend te werk gaan.

  • Katjiedrieblaar help met hormoonbalans, premenstruale-sindroom (PMS), menopouse en warmgloede. Kan met groot sukses gebruik word in die plek van hormoonvervangingsterapie. In kombinasie met kankerbossie kan dit gebruik word om die immuniteit van kankerpasiënte te verbeter.
  • Kraalbos versterk die kopvel sodat dit verhoed dat hare uitval en die teruggroei van hare stimuleer. Dit verbeter ook algemene kondisie van hare.
  •  Knoffel – Koning in jou tassie van winter-doepas
    Die winter is die tyd dat die imuunstelsel oortyd moet werk om al die verkoues, griep en brongitis hok te slaan en hier is organiese knoffel 'n uitstekende bondgenoot. Rou knoffel, knoffel in sop, knoffel saam met Dasbos en Klipkruie help om die liggaam sterk te hou deur die wintermaande.

    Die meeste knoffel wat mens in supermarkte koop, word ingevoer uit China uit, waar dit baie keer geneties gemanupileer word om min of meer almal dieselfde te lyk en bestraal word om te voldoen aan invoer vereistes. In die Karoo, naby die klein dorpie Loxton, is Johan Scholtz al n paar jaar besig om organiese knoffel te verbou. Ek het dit onlangs begin gebruik en ek kon nie die verskil glo nie! Die knoffel smaak anders, “lewendig”, sou ‘n mens dit kon noem. Ek is baie gelukkig dat ek so naby die knoffellandery woon, want ek sal van nou af sorg dat ek nie sonder hierdie bondgenoot is nie. Johan se tel nr is 0533 813 905 en sy e-pos adres is elandshcoltz@gmail.com.

    Onder Boererate, is daar ‘n resep vir gout en artritis, waar ‘n mens 1kg knoffel gebruik en hier is ‘n geleentheid om organiese knoffel te gebruik. Trouens, dit is noodsaaklik om organiese knoffel te gebruik, as jy knoffel medisinaal gebruik.

  • Kruitjie-roer-my-niet verlig tenniselmboog, heupprobleme en verstuite gewrigte. Dit is uiters giftig en moet slegs uitwending en met groot versigtigheid gebruik word.
  • Lukwartboomblare en Rooivergeetwortels verbeter suikervlakke in diabetes-leiers wie terselftertyd ‘n gesonde dieetprogram volg.
  • Manskruie verminder impotensie.
  • Manskruie en Vrouekruie kan help vir mense wat sukkel om swanger te raak.
  • Oogbossie help met oogprobleme soos oë wat baie water, asook met katarakte.
  • Oondbos verlig hoofpyn, gewoonlik in kombinasie met ander kruie wat waarskynlik die hoofpyn veroorsaak.
  • Rooivergeetwortels en Jakkalsbos help met hartprobleme, veral na hartomlynings aangesien dit bloed versterk en die orgaan help om trauma te hanteer.
  • Velpoeier help met ekseem, psoriase, gordelroos en kopluis.
  • Vlak-grashout is ‘n vinnige maar sterk manier om van ‘n verkoue ontslae te raak.
  • Wildepampoen verlig rugpyn.
  • WynruitWilde-als en Nieshout genees longkwale, asma en brongitis.
(Vanaf Kruie Kraai Koning)

Sunday 9 April 2017

'n Plan B


Ek sit nou hier en dink aan die verganklikheid van die lewe - en die ouderdom. Dis nog nooit juis iets waaraan ek aandag gegee het nie. Mens word ouer, jy kan minder doen, jou vel is meer verrimpeld (en nog meer!), en daar is ’n paar skete en pyne. Gelukkig is ek nog vol energie, het goeie gesondheid (was laas in die hospitaal met die geboorte van my dogter 47 jaar terug) en my brein is nog so skerp soos ’n naald. My geheue ook.

Waaroor dit nou eintlik gaan is die feit dat ek artritis ontwikkel het in my duime. Ek sukkel om ’n speld van die lessenaar af op te tel en het so nou en dan pyn, veral in die winter. En daar’s swelsel. En ’n knopperige been wat ek net bokant elke duim kan voel. Andersins is daar nie probleme met my hande (of duime nie), ek kan nog goed soos bottels en allerhande dinge perfek hanteer en optel (oopmaak is nie meer so maklik nie en aartappels skil is baie moeilik) en ek kan nog my verfkwas en potlood vashou. En ek kan nog (vinnig) tik op my rekenaar se sleutelbord. Dit verg min duim-verbruik.

Nou hier’s die ding - wat gebeur die dag as ek nie meer my verfkwas kan vashou nie? As ek nie meer kan teken of skilder nie? As ek nie meer in my Joernale kan skryf nie? Dis waaruit my lewe bestaan - skilder. En tuinmaak. En herinneringe neerskryf. En wat gebeur die dag as ek nie meer daai dinge kan doen nie? Dis mos dan nou tyd om vooruit te dink en te besluit wat ek gaan doen indien so iets gebeur.

Nou, my pa het altyd gesê, moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie. Maar my geaardheid neig bietjie na vooruit beplan, bietjie van ’n “control freak”, alles het ’n plek en alles moet reg wees. Daar’s altyd ’n plan B ingeval dinge bietjie verkeerd loop. En wat ek nodig het is ’n plan B.

Maar voor ons by Plan B uitkom, eerste van alles, ek glo in die doktrine van Louise Hay, dat al ons siektes en skete vanaf ons gedagte-patroon afkomstig is. En in haar boek “Heal Your Body with your Mind” is die oorsaak van artritis in ledemate as volg : “Arthritis in joints represents changes in direction in life and the ease of these movements.” Reg. Dit verstaan ek. Ons is nou op die ouderdom (ek is hierdie jaar 71) waar ons afgetree het en in die proses is om ons plot, waar ons al 42 jaar woonagtig is, te verkoop en kus toe te verhuis. Dis ’n groot verandering. Daar’s gedagtes van my tuin, al my diere, my hoenders, te veel goed in ’n groot 3-slaapkamer huis om saam te neem en wat van alles gaan word.

Die nuwe gedagte-patroon om aan te leer, volgens Louise, is, “I easily flow with change. My life is Divinely guided and I am always going in the best direction.” Lees weer, “Best direction”, nie “right direction” nie. My pa het ook altyd gesê, alles gebeur vir die beste. Mens kan nooit sê watter besluit is reg of verkeerd nie, dis net ’n besluit, maar wat jy met die besluit doen is wat belangrik is. En nou die dag het ek ook afgekom op hierdie pragtige gesegde : ♥ “I am not sad because it is over, I am smiling because it happened.”





Al my herinneringe is veilig, ek sal vir ewig dankbaar wees vir die lewe wat ek hier gehad het, die diere wat ek lief gehad het en wat vir my lief was, al die ondervindings en al die lief en leed. So, van hier af beweeg ek met gemak vorentoe in die beste rigting wat ek kan. En koebaai artritis.

Nou vir Plan B. Sonder artritis gaan ek nog verf en skilder en teken en skryf totdat ek ’n honderd jaar oud is. Ek gaan nog nuwe saadjies saai en plantjies in ’n stukkie grond plant, al is dit net in ’n potjie of twee. Ek gaan kaalvoet op die strand loop en skulpe optel, ek gaan saam met my dogter en kleinkinders rond kerjakker en nuwe dinge sien, nuwe dinge leer en nuwe dinge doen. En dit alles met ’n dankbare gevoel vir dit wat ek nog het wat perfek is.


Saturday 14 January 2017

Om ‘n tuin te plant is om te glo daar is ‘n môre…


 …Blomme laat hul geur na op die hand wat hulle kos gee!


… en my tuin glo definitief daar is ‘n môre! Alles wat groei het nou klaar saad geskiet; die Kappertjies, albei die Wit en Swart Karee's, die Chondropetalum tectorum (large Cape Rush, een van die Restios) en selfs van die kaktusse – soos die blommetjies van die Rattail-kaktus wat naderhand kwyn en in ‘n saadjie verander en deur die wind in die tuin versprei word.

  Rattail-kaktus in volle blom

  Chondropetalum tectorum

Desember en Januarie, met hul lang sonnige dae, word beskou as midsomer. Dit is wanneer die laaste vroeg somerskleur van beddingplante, jaarplante, struike en rankplante wyk voor die geharde helderkleurige somerblomme en loofplante wat die hitte kan weerstaan en die tuin tot in die herfs kan deursien.


Daar is altyd baie tuinwerk – swaar reëns in ons somermaande kan grond wegspoel of laat vaspak so nou is die tyd om dit liggies met ‘n vurk los te maak en te bedek met ‘n los deklaag.

Die beddings is mooi reg gemaak en kompos bygevoeg 

Februarie is die tyd wanneer ek kyk of daar muskiete in die dam, tussen die Varings, ander grootblaar plante en die hoenderhok is. ‘n Paar druppeltjies paraffien of olie tussen die plante sal hulle weghou en niks aan die plante doen nie. Vir die hoenderhok spuit ek ‘n eko-vriendelike muskietdoder.


Om van muskiete in my dammetjie ontslae te raak is ‘n ander saak. Ek kan nie paraffien of diesel gebruik nie, want ek het baie insekte soos Waterskerpioene, Naaldekokers en Waterkewers wat sal omkom as ek die water op hierdie manier behandel. So al genade is om ‘n paar maal ‘n jaar die hele dam leeg te maak, te skrop en vol te maak met vars water. Alle paddas word gevang, in emmers geplaas en later weer terug gesit. Ongelukkig word baie van die Waterskerpioene en -kewers ook uitgespoel, maar vind gewoonlik hul pad weer terug water toe. Die Naaldekoker-nimf is ook darem behulpsaam om die muskietplaag onder beheer te hou.

Geniet jou herfs en winter tuin-takies, maar moenie vergeet om jou tuin te geniet nie!

.